Monday, June 14, 2010

Van Staden VF Plus- Leier in Pretoria


JAN-JAN JOUBERT IN KAAPSTAD (Rapport 13 Junie 2010 )
Die VF+ het gister ’n nuwe streekleier vir Pretoria aangewys, en dit was die gemeenskapswerker mnr. Philip van Staden van die Wes-Moot wat die bekende taalstryder dr. Dan Roodt ore aangesit het.

Die verkiesing het gister in die Centurion-stadsraad saal plaasgevind om die vakature te vul wat gelaat is deur die eertydse LP van die VF+, mnr. Willie Spies, wat onlangs uit die party bedank het.

Van Staden het die meeste stemme getrek, gevolg deur Roodt en ’n derde kandidaat, mnr. Vorster Gauche. Die presiese uitslag is nie bekend gemaak nie.

Mnr. Peet van der Merwe is in Van Staden se plek tot ondervoorsitter van die streek verkies.

Van Staden het in 2008 bekendheid verwerf toe hy die DA-meerderheid in Tshwane wyk 55 (Booysens, Claremont, Tuine, Danville, Elandspoort en aanliggende hoewes) van meer as 3 000 na 143 laat krimp het in ’n tussenverkiesing.

Ná sy verkiesing het Van Staden aan Rapport gesê dit is tyd dat die VF+ in die Pretoria-streek ’n nuwe rigting inslaan.

“Ons was die afgelope tyd leierloos nadat mnr. Spies bedank het. Dit is belangrik dat ons alles wat ons doen, doen in belang van die kieser, wie se regte vertrap word.”

As doelwit vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing het Van Staden gesê die VF+ moet wyke in die Tshwane-metroraad wen.

No comments:

Post a Comment