Tuesday, May 25, 2010

GEMEENSKAP IN HOF OOR WENDYHUISIES AAN ARMES

Twee gemeenskapslede van die Wesmoot het vandag in die hof verskyn omrede hul vir huislose mense behuising dmv wendyhuisies verskaf.

Die twee aangeklaagdes, Mev Magda Stroebel en Mnr Johan Brummer,is deur die Tshwane metroraad voor die hof gedaag om hierdie huisies af te breek of om swaar boetes en tronkstraf in die gesig te staar. Die twee aangeklaagdes het die VF Plus in die Wesmoot vir hulp genader waarna die VF Plus se regsverteenwoordiger, Mnr Roelof van der Merwe, die saak behartig het. Mnr van der Merwe het vandag namens Stroebel en Brummer betoog en die landdros daarop gewys dat indien die Metroraad sou voortgaan om mense uit wendy huisies te sit die gemeenskap van die Wesmoot met nagenoeg 5000 inwoners op straat gaan sit. Die landros het daarna beveel dat die saak uitgestel moet word tot 20 Julie 2010 met vertoë.

VF Plus verteenwoordiger in die Wesmoot, Mnr Philip van Staden, wat by die saak namens die gemeenskap betrokke is het dit vandag weereens gestel dat mense nie sommer uit huise uitgesit kan word nie en dat die VF Plus in die Wesmoot alles in sy vermoë sal doen om alle uitsettings in die Wesmoot te keer. “Mense het ‘n grondwetlike reg op behuising en alvorens mense uitgesit kan word moet die staat eers alternatiewe behuising vir die mense verskaf.” Van Staden het ook meegedeel dat protes optrede rondom die behuisingskwessie in die Wesmoot drasties opgeskerp gaan word.


Mnr Philip van Staden
Wykskomitee lid wyk 01 Pretoria
VF Plus verteenwoordiger Wesmoot Pretoria
VF Plus ondervoorsitter Pretoria Streek

Saturday, May 22, 2010

Ons innige meegevoel

Namens die gemeenskap van die Wesmoot,die Vryheidsfront Plus in die Wesmoot en die Vryheidsfront Plus in die Pretoria Streek wil ons graag net ons innige meegevoel betuig teenoor oom Philip du Bruyn en sy familie met die afsterwe van sy moeder 'n paar minute gelede. Ons wens u en u familie alle sterkte toe en onthou da...t ons as vriende altyd vir u daar sal wees. Psalm 23: "Die Here is my herder."

Wednesday, May 19, 2010

Misdaad Memorandum

Na vandag se saamtrek van ongeveer 2000 mense in Pretoria teen Misdaad is die memorandums nie net suksesvol in ander dele van die land oorhandig nie maar ook in die Wesmoot en Weste van Pretoria. Die ontvangs by die Hercules polisiestasie in die Wesmoot was nie baie goed gewees nie maar Phillip van Staden, wat ondersteun was deur twintig inwoners van die gebied, het na 'n hewige gesprek die memorandum net begin voorlees en aan die persoon in bevel oorhandig waarna daar aangedring is deur Philip van Staden dat daar erkenning vir ontvangs geteken moet word.

Van Staden het na die tyd die Afrikaanse memorandum buite die Hercules polisiestasie aan die twintig inwoners voorgelees waarna Van Staden en die inwoners 'n gebed gedoen het en gevra is dat die Here die mense in Suid Afrika asseblief moet beskerm teen die helse magte wat tans in die land is. Die konvooi het daarna na die Pretoria Wes polisiestasie beweeg waar Van Staden en die inwoners baie vriendelik ontvang en behandel is.

Tuesday, May 18, 2010

100% vir dag teen misdaad

Philip van Staden
ondersteun Solidariteit se dag teen misdaad 100%. Hy gaan namens
Solidariteit 'n memorandum oorhandig aan die SAPD Hercules en die SAPD
Pta Wes polisiestasies. Baie dankie aan Solidariteit vir hierdie
geleentheid om ons protes teen misdaad in Suid Afrika ten toon te stel.

Friday, May 14, 2010

WESMOOT GEMEENSKAP GAAN NIE MEER WAARSKU: BEGIN MET OPTREDES

“Die gemeenskap in die Wesmoot van Pretoria gaan nie meer langer die regering waarsku oor misdaad nie maar gaan nou in alle erns begin optree.” Dit was die reaksie van die verteenwoordiger van die VF Plus in die Wesmoot,Mnr Philip van Staden, nadat dit aan die lig gekom het dat Mnr Manuel Freitas 60, se lyk gisteraand in sy huis in Booysens gevind is.

Volgens berigte is Mnr Freitas se lyk gevind nadat sy bure onraad vermoed en alarm gemaak het.Vermoedelik is Mnr Freitas erg aangerand. Volgens die SAPD het die bure die polisie gekontak nadat hulle onraad vermoed het omrede Mnr Freitas se hek en deure gisteraand nog oopgestaan het en geen ligte in die huis aangeskakel was nie. Volgens die SAPD is nog niemand in hegtenis geneem nie.

Van Staden het die gemeenskap gemaan om uiters versigtig te wees en seker te maak dat hulle deure bedags en snags gesluit is. Die gemeenskap moet egter nie te gerus raak nie en altyd paraat wees. Indien enige onraad vermoed word moet die SAPD of die bestaande Sektor polisiërings dadelik gekontak word. Van Staden wys daarop dat hierdie moord die tweede aanslag binne drie dae in die gemeenskap is en dat dit nie meer langer geduld gaan word nie.

“Die dae van praat en waarsku is verby.”


Mnr Philip van Staden
Wykskomitee lid wyk 01 Pretoria
VF Plus Verteenwoordiger Wesmoot Pretoria